- Ons Storie
- Kursusse
met menslikheid in die middel
Droom · Dink · Doen
Waar idees, tegnologie en selfontdekking saamkom
Wie is ons?
By Kleinbosch is dit ons doel om leerders ten volle vir die werkswêreld toe te rus, terwyl hulle terselfdertyd hul passies, drome en talente ontdek. Ons bied 'n omvattende ervaring wat ontwikkeling op verskeie vlakke ondersteun - vandaar ons leuse: droom, dink en doen. Ons moedig leerders aan om groot te droom, stimuleer kreatiewe denke en kweek entrepreneursvaardighede. Hulle word toegerus met die nodige kennis en insig om krities en logies te besluit, kry blootstelling aan kunsmatige intelligensie (KI) en leer om planne te ontwikkel wat hul toekoms sal vorm. Laastens word hulle toegerus met praktiese vaardighede, goeie kommunikasie en die nodige lewensvaardighede om die werkswêreld met selfvertroue en sukses te betree.
Die Afrikaanse taal en kultuur staan sentraal by Kleinbosch, sodat leerders in hul moedertaal kan groei en hul identiteit met trots kan uitleef. Die plaaslewe bied 'n unieke geleentheid om naby die natuur en landboupraktyke te leef, terwyl sportsoorte soos vlugbal, netbal, jukskei, swem en sokker vir ontspanning en samehorigheid sorg. Leerders neem deel aan opvoedkundige kursusse en word deur inspirerende sprekers verryk, terwyl die koshuise en eetsale 'n sterk gemeenskapsgees kweek. Die Afrikaanse museum hou ons taal en geskiedenis lewendig, en moderne hulpmiddels en tegnologie berei leerders deeglik voor vir die uitdagings wat in die werkswêreld op hulle wag.
Waar Afrikaans Wortel Geskiet Het
Geskiedenis van Kleinbosch
Kleinbosch is 'n historiese plaas in Daljosafat naby die Paarl. Die plaas is reeds in 1692 aan François du Toit, 'n Hugenote-vlugteling, toegeken. Eeue later sou hierdie grond bekend word as die plek waar Afrikaans sy eerste beslissende tree gegee het. S.J. du Toit, wat in 1847 op Kleinbosch gebore is, het 'n diep passie vir Afrikaans gekoester. Saam met sy broer, D.F. du Toit, het hy onvermoeid gewerk om Afrikaans as volwaardige taal te bevorder. Hulle het die Genootskap van Regte Afrikaners in die lewe geroep en die eerste Afrikaanse koerant, Die Afrikaanse Patriot, uitgegee. S.J. du Toit het ook die eerste pogings aangewend om die Bybel in Afrikaans te vertaal — 'n droom wat uiteindelik in 1933 met die verskyning van die eerste volledige Afrikaanse Bybel verwesenlik is.
Op Kleinbosch is die Hugenote Gedenkskool in 1882 gestig — die eerste skool waar klasse in Afrikaans aangebied is. Bekende Afrikaanse skrywers soos Totius en D.F. Malherbe het hul skoolopleiding hier ontvang. Vandag is Kleinbosch veel meer as net 'n plaas. Dit is terselfdertyd 'n museum, 'n erfenisterrein en 'n skool waar die verhaal van Afrikaans se geboorte en groei steeds lewendig gehou word.